DAT JY MY SAL LIEFHÉ MET JOU HELE HART…. DIS AL

Picture

Hosea 2:18-19“Ek gaan jou My bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur My weldade en My goeie sorg, deur My liefde en My ontferming.
Ek gaan jou aan My bind deur My onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here toegewy sal wees.”

As jy my moet vra wat is my gunsteling boek in die Bybel, sal die Boek Hosea los hande die nobel prys wen in my hart.
Dis ‘n boek wat keer op keer my hartsnare kom roer en my elke keer ‘n bietjie meer laat verstaan hoe diep God se liefde vir my is.
Hosea  se liefde moes so diep gewees het, met die wete dat hy alles sal gee en dalk niks sal terugkry nie.

Ek kyk na Gomer en ek sien so baie van myself in haar. Ek self het al geflirt en geslaap met die wêreld en my
“God-shape-hole”, gevul met mensies, goetertjies en gemorsies.

Net soos elke vroue-hart was daar ook  ‘n behoefte in Gomer se hart om gevind te word en bo verwagting liefgehê te word asof sy al een is wat bestaan.
Jy het dit.   Ek het dit.   Ons almal het dit.

As ons regtig eerlik is sal ons erken dat daar tye was wat ons moed opgegee het op daai hoop en ons oorgegee het aan die dinge van ons bestaan wat ons leeg en eensaam gelaat het nadat hulle ons gebruik het.
Ouers, mans, vriende, kinders, die lys soms oneindig….
Party van ons het nie ‘n keuse gehad nie, jy was oorgegee aan die hand wat vir jou gedeel was in die rowwe woeste lewe.
Hoe ookal, ons het geleer om te veg en te werk vir oomblikke van liefde, erkenning en aanvaarding om net ‘n tikkie kortstondige geluk te voel.

Die waarheid is, daar is waarlik net Een ware Liefde wat in elke behoefte van ons menswees kan voorsien.
Sy naam is JESUS

En soos Gomer wat deur haar Hosea gevind is, vind Jesus ons en Hy vat ons nes ons is, maar soms sukkel van ons om daai liefde te aanvaar en ons werk om dit te verdien.

Nie baie lank gelede onthou ek ‘n dag op my stoep en Sy stem wat liefdevolle, dog ernstig sê :
“Al wat Ek wil hê is dat jy My sal liefhê….
Dis al……”

Ek het geweet wat Hy vra, maar ek het nie geweet hoe dit genoeg kan wees of hoe om op daai plek in ons verhouding uit te kom nie, maar bang gehoorsaam het ek gevra:
“Wys my hoe Here!”

Dit was ‘n proses van sterf,  sterf en  nogmals sterf wat ek dalk eendag sal deel, as Hy dit van my vra.
Nietemin, sterf is seer.  Dis hoekom daar so baie trane by begrafnisse is.

Die week weg van die huis staan ek op die strand en ‘n ongekende warmer liefdesgevoel sonder verdienste spoel golf na golf oor my en ek weet:
Dis wat Hy bedoel het!

Ek hoef niks te wees nie.
Ek hoef niks te doen nie.
Hy het my lief. Hy het my gevind en my gekies.
Hy het my vasgemaak aan Hom.
Hy is onverbreekbaar getrou in Sy liefde aan my.
En met Sy ewigdurende liefde, weldade en sorg het Hy my toegewyd gemaak aan Hom.

Terwyl die branders voor my breek, die trane oor my wange rol en die son se strale deur die wolke loer en warm op my skyn is daar net een sin wat ek oor en oor kan fluister:

Ek het U lief. 
Ek het U lief. 
Ek het U lief. 
En dis genoeg 

Ek weet nie waar jou hart vandag is nie?
Dalk dink jy nog dat jy moet werk om Sy liefde te verdien.
Dalk voel jy jy is nie goed genoeg vir Hom nie.
Ek bid vandag dat jy Hom sal toelaat om jou te vind en jou te wys hoe wyd, hoe diep en hoe hoog Sy liefde vir jou is.

Liefde onverdiend, oorvloedig en vir altyd! 


Loading

Share This Content Via: