Ps 23:4 “Al gaan ek ook deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; U stok en U staf vertroos my.”
Die dag is al ‘n maand lank op my ma se kalender vasgepen, want sy vergeet mos en een oggend het sy net blind in haar een oog wakker geword, gelukkig het die sig deur die dag soort van herstel.
Julle weet mos jy moet amper op avbob se stoep sit voor jy ‘n nood afspraak kan kry!
So durf ek die pad Bethlehem toe aan met bejaarde ouers, Polina, ons eie edelsteen met ‘n hart van goud en die kattebak gepak met rolstoel en loop karretjie.
Mamma se ander speel-speel naam is mos Klara en soos ‘n ou gramafoon plaat hak ons op een plek vas van hoe sy nou opsien na die dag.
Pappa staar stil by die venster uit en drink elke stukkie van ry en buite wees in, want sy vryheid wat hy eens gehad het om te ry waarheen hy wil is eers deur beroerte en toe deur Petrus se dood uit sy lewe weggeskeur.
Dis behoorlik ‘n missie van ‘n ander kleur om die twee in en uit die kar te help, maar met genade van Bo kry ek en ma ons sit in die spreekkamer.
Terwyl die dokter haar ogies toets, kom lê ‘n diep hartseer in my hart want die eens trotse staan-vir-alles-reg dapper vrou, kyk onseker en bang na my om bevestiging te kry dat sy die opdragte reg uitvoer.
Soos net God kan beplan, uit die hoek van my oog sien ek drie persone sit, twee vrouens en ‘n man en haar helder kleurling stem val sag vertroostend op my oor toe sy Ps 23 kliphard begin voorlees soos net ‘n digter kan uit ‘n Gideon Bybel wat tussen al die ander boeke ook sy lêplek moet moet gestand doen.
“Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee….”
Hulle word voor ons ingeroep en dis toe eers dat ek sien, dat die man blind is en hy steun op die twee vrouens vir letterlik alles.
Hulle lei hom tree vir tree en hy volg sonder twyfel die bekende stemme na sy plek van bestemming.
En my alleen-hartseer-gevoel maak dankbaar plek vir vrede.
Hy lei my….
Hy lei mamma en pappa…
Hy lei my kind wat tien minute terug hartverskeurend gebel het oor hy ook maar weerloos en bang voel en nie weet waarna om te gryp nie….
As ons maar net elke oomblik na ons Here sal luister, net soos daai blinde man wat tevrede, vreesloos en vertrouend na die twee vrouens luister om vir hom die pad te wys.
Ons kan Hom in alles en met alles vertrou.
Die Here is daai Herder.
Jy is nooit alleen nie.
Ek is nooit alleen nie.
My dag word afgesluit deur ‘n dierbare vriendin wat die vers Jakobus 4:4-5 met ons deel en soos sy in haar eie woorde sê :
“The Spirit who lives in me jealously longs for all of me!”