Ja vir Jesus – 13 Aug 2016

Picture

Die kreet: “Ja vir Jesus!”  het deur die strate van Petrus Steyn opgeklink op Saterdag 13 Augustus toe ‘n groep kinders van Petrus Steyn en Heilbron op ‘n sleepwa deur Petrus Steyn gery het.  Die Ja vir Jesus-byeenkoms is gereël deur Petrus Steyn Fellowship en die tema was Joh 8:12 – Jesus is die lig vir die wêreld. 
 
Met ‘n groot opgewondenheid het ongeveer 40 kinders en volwassenes namiddag bymekaar gekom en daar is afgeskop met ‘n paar lekker speletjies terwyl Sheila(17) en Adri(16) van Dyk met die kinders deel oor Jesus.  Ieder een het daarna die op die sleepwa geklim en met kitare en lofliedere het die trekker en wa deur die strate gery oppad na Huis Silwerjare, Petrus Steyn se ouetehuis.  Aangekom by Huis Silwerjare het die kinders elkeen met ‘n sjokolade by al die huisies ingegaan en vir elke persoon wat woonagtig is in Huis Silwerjare ‘n sjokolade gegee.  Met die opstap na die hoofgebou het die kinders steeds lofliedere gesing.  By die hoofgebou van Huis Silwerjare het die bejaardes in die leefvertrek gesit en die Ja vir Jesus span het vir hulle ‘n paar lofliedere gesing en aan elkeen ‘n sjokolade en ‘n drukkie gegee.  Die bejaardes het die gebaar van die kinders vreeslik waardeer en hulle hartlik bedank en genooi om gerus weer ‘n besoek aan Huis Silwerjare af te lê.
 
Van daar het die kinders Elandskop uitgeklim en is verras met pannekoek, milo en kerslig.  Die “City on the hill” was gereed om die kinders te ontvang en ‘n rusplek te wees na die klim tot bo.  Wilko du Plessis(17) het gedeel uit Mat 5 dat elkeen se lig vir Jesus so groot moet skyn dat die hele dorp dit kan sien.  Na die lafenis het almal weer terug beweeg na die sleepwa  en met lofsange het die trekker en wa die strate van Petrus Steyn op en af gery.  Nuuskieriges het op die sypaadjies gestaan en wag om die mooi kindersang te hoor. 
 
Die trekker het deur die dorp gery tot by Petrus Steyn Golfklub waar die kinders heerlik speletjies gespeel het en daarna lantern-bekruip het.  ‘n Gelaaide stilte het oor die golfbaan neergedaal soos daar angstig gekyk is wie gaan eerste die lantern kan annekseer.  Met groot opwinding het die kinders die ooms gefnuik en sowaar die lantern gewen.  Van daar het die wa gery na die huis van Johan en Machel de Bruyn waar daar ‘n opvoering oor die tien maagde was.  Die dwase maagde was hewig ontsteld dat die dinge van die wêreld hulle lanterns laat doodgaan het, terwyl die wyse maagde die kinders aangemoedig het om brandend te bly vir Jesus.  Christiaan Beukes(17) het met die kinders die gelykenis van die tien maagde gedeel en elkeen herinner om nie die olie te laat opraak in jou lantern nie.  Na ‘n heerlike hotdog en koeldrank het Bé-on du Plessis(17) vir die kinders vertel van David en Goliat.  Die Here se lig het uit David geskyn en dit het hom die oorwinning gegee.  Die kinders is in groepe gedeel en daar is geleentheid gegee vir elke kind om seker te maak dat Jesus se lig in hom is.  Na ‘n lekker stuk koek is almal met brandende harte uitmekaar.
 
Dit was voorwaar ‘n Ja vir Jesus wat Petrus Steyn kom verlig het met Jesus se liefde.
 
Mariska du Plessis

Loading

Share This Content Via: