Ja vir Jesus 7 Nov 2015

​Op ‘n heerlike somersoggend het ‘n groep fietsryers, jonk en oud, in Petrus Steyn bymekaar gekom vir Petrus Steyn Fellowship se  “Ja vir Jesus-plesierrit”.   Ongeveer 9 uur die oggend op Saterdag 7 November 2015 het ‘n groep fietsryers van 6 jaar tot 40 jaar reggestaan by die wegspring vir ‘n heerlike 8 km pretrit.  Elke fietsryer het ‘n nommer op sy rug gekry met die leuse “One way – Jesus way”.  Die motorfietse wat vooruit moes ry om die pad skoon te hou vir die ruiters was gewapen met ‘n Jesus-vlag.
Voor die wegspring het Wilko ge-open met Daniël en almal herinner aan Daniël wat sy vensters wyd oopgegooi het om te bid tot die Here te midde van die wette van die land wat dit verbied het.  Hy het elkeen aangemoedig om hulle vensters wyd oop te gooi en nie skaam te wees vir die evangelie van die Here nie.  Daar is ‘n paar lofliedere gesing en met jubeling van “Our God is an awesome God” was almal gereed vir die wegspring.  Die laaste kreet: “Ja vir Jesus!” het opgeklink van al die ruiters voor die lint gesny is en almal in volle vaart weggespring het.
Soos die fietsryers die plaaspaadjie tref,net verby Petrus Steyn silos, het die eerste waterpunt vir hulle gewag.  Na ‘n glasie koeldrank het  hulle die moeilike grondpad heuwel uitgery.  Die tweede waterpunt het hulle ingewag met bietjie water en ‘n Lunchbar.  Die laaste opdraand tot by die halfpad stop het sy tol geeïs en talle ryers het die rooi en wit Chevy “ambulans” gestop om ‘n geleentheid te kry tot by die halfpad stop.
Halfpad het die ruiters heerlik op die gras neergevly onder groot wilgerbome met ‘n ysie en ‘n suigstokkie in die hand.  Bé-on het met almal die storie gedeel uit Rigters 17 van die Leviet en hoe die volk gaan veg het.  Hy het almal herinner dat die volk het elke keer vir die Here gesê hulle gaan veg en dan die stryd verloor, maar die een keer waar hulle vir die Here gevra het of moet hulle gaan veg, het hulle oorwin.  So moet ons ons eie planne eenkant skuif en God se plan volg.
Met die terugrit tot by die swembad in Petrus Steyn was daar weer twee waterpunte met Oros en fudge.  Aangekom by die swembad was al die ruiters uitgeput en gereed vir die heerlike boksies met ‘n hotdog, pakkie chips en sny koek.  Daar was ook ‘n botteltjie yskoue Coke vir elke ruiter as lafenis en baie vinnig was almal in die swembad om af te koel.  Christiaan het die dag afgesluit deur almal te herinner aan Noag en die groot geloof wat hy gehad het.  Hy het almal bemoedig om nie skaam te wees as die Here vir jou ‘n opdrag gee nie, maar om in geloof te staan maak nie saak wat die mense om jou sê nie.
Hierdie dag was werklik ‘n Ja vir Jesus!!

Mariska du Plessis

Loading

Share This Content Via: