I hear your SOS
I will send out an army to find you in the middle of the darkest night,
It’s true, I will rescue you…
Dae soos vandag staar ek by die venster uit na die plaaslewe om my. Ek sien die turksvye wat geel en oorryp agtergebly het aan die blare. Te diep tussen die dorings om te pluk. Nutteloos. Weggesteek vir menslike gebruik tussen die donker holtes van die dorings en blare. Terwyl ek so kyk kom sit daar ‘n stukkie onthou in my hart. Van ‘n tyd lank verlore. ‘n Tyd van donker. ‘n Tyd van weggesteek wees vir God se gebruik. Die trane prik branderig in my oë en waggel op die rand van my wimpers. Is dit trane van hartseer of blydskap, wonder ek. Op daardie oomblik begin daar ‘n lied speel op my foon. Die woorde ruk my uit die dorings van my heimwee en ek besef, dis ‘n groot oorvloedige blydskap.
Ek was weggesteek, nutteloos en sonder waarde vir die mense en vir God, in die donker holtes tussen die dorings van hierdie wêreld. Een aand het ek ‘n SOS uitgestuur na die enigste kanaal wat oop was daardie aand. Na die enigste Redder wat kans gesien het om te luister na my smekende, fluisterende SOS: “Here, help!!”
My Redder het ‘n weermag teëgestaan en die oorlog alleen geveg om my te kon red. Hy het my gered.
Vandag soos ek terugkyk op my pad saam met Jesus, besef ek dat geen mens op aarde nog ooit so vir my baklei het soos Jesus vir my siel baklei het nie. Hy het nooit opgehou om te veg vir my nie. Hy het my lief met ‘n maat wat ek dink ek nooit sal verstaan nie. Al wat ek weet, dis die grootste liefde wat ek nog ooit teëgekom het en sal teëkom.
“For God did not send the Son into the world in order to judge the world, but that the world might find salvation and be safe and sound through Him. He who believes (who clings to, trusts in, relies on Him ) is not judged… John 3:17, 18
Die Vader het Sy Seun, Jesus Christus, aarde toe gestuur sodat my SOS gehoor kan word. Sodat ek op die punt kan kom waar my werke in die lig is en waar ek kan sê ek is waardevol, hooggeag en geliefd, want ek is gered, nie deur my eie werke nie, maar deur die genade van Jesus. Hy is my Redder. Ek kleef aan Hom en vertrou Hom volkome.
Vandag as jy voel dis donker om jou en die dorings steek jou, as jy voel of jy jou waarde verloor het, fluister nou jou SOS vir Jesus. Hy SAL ‘n weermag uitstuur om jou te red en Hy SAL aanhou veg vir jou. Die enigste Redder van my siel… Jesus Christus. Hy WIL jou red vandag.