SHE is in the darkroom

​God se ongelooflike liefde, genade en goedgunstigheid is vir elke mens en elke vrou beskore. Dit was die boodskap op die #sheisinthedarkroom,  negende Vrouekamp by die Three Rivers Conference Centre in Vereeniging oor die naweek van 1 tot 3 November aangebied deur die Petrus Steyn Fellowship, in samewerking met die Fellowships in Drie Riviere, Vanderbijlpark, Frankfort, Heilbron en Harrismith. Die eerste vrouekamp van hierdie soort is 2014 aangebied en deur 42 vroue bygewoon. Die bywoning het intussen gegroei tot ongeveer 170 en vroue het van so ver as Pretoria en Bloemfontein gekom om dit by te woon.
Die tema van die kamp is hoofsaaklik ondersteun deur die geskiedenis Hosea in die Bybel. Hosea het die onwaarskynlike opdrag van die Here gekry om met ‘n losbandige vrou, Gomer, te trou. Gomer het Hosea telkens teleurgestel deur na die markplein, waar ‘n skynbare blink en opwindende lewe vir haar gewink het, terug te keer. Hosea het haar keer op keer terugverwelkom en ten einde laaste teruggekoop toe sy as slaaf verkoop is. Hosea se liefde vir Gomer is die vergestalting van God se liefde vir ons. Dit verdra alles, hoop en vergewe alles. By God is ‘n mens altyd welkom, maak nie saak hoe donker jou lewe is nie. Vanuit die donkerkamer van die lewe, kan mens ontwikkel tot ‘n pragtige kleurfoto wat Jesus se liefde uitstraal.
Samekomste tydens die kamp het lofprysing deur sang, boodskappe van fasiliteerders en evangeliste, gebede, getuienisse van vroue wat hulle in die “donkerkamer” bevind het en nogtans Jesus se lig kon uitstraal, behels. Vrouens kon ook geestelike berading kry en daar is vir hulle en hulle gesinne en families in persoon gebid. ‘n Lekker plakprojek met foto’s het vir ontspanning gesorg. Daar is ook heerlik geëet en saamgekuier en gesels in ‘n wonderlike atmosfeer van liefde vir mekaar.
Vrouens kon Sondag die kamp verlaat en voel dat daardie moedelose of leë gevoel, wat almal soms ondervind, net deur die Here gevul kan word. Hulle is toegerus om hulle werk in die Here se liefde te doen en hulle gesinne en families te versorg. Hosea 10:12: “Saai volgens My wil en julle sal My liefde oes.”

Irma Brink

Loading

Share This Content Via: