Ma en Dogter Tee – Feb 2020

Met die vooruitsig van ‘n bos-kuier in die wiele gery deur donderwolke wat swaar opsteek oor die Riemland vlaktes van Heilbron, het 120 vroue vrolik saamgetrek in die saal op die plaas Donsveertjie vir ‘n heerlike Ma en Dogter tee op Saterdag 22 Februarie 2020.  Met tafels wat smaakvol versier is, rusbanke en versiering by die ingang en ‘n prag kunsuitstalling deur Nadine Muller het ons onmiddelik welkom gevoel op die koel somersoggend.

Nadine open die oggend dan ook en herinner ons aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.  Ons kan God vat op Sy Woord.  Sy beloftes is eg. Mariaan het ons gelei in lof en aanbidding soos die vrouestemme opgeklink het om die Here te loof.  Terwyl die mammas en dogters rustig knibbel aan die heerlike eetgoed doen Marelise Steyn ‘n aktiwiteit met ons en elkeen moet haarself teken op ‘n transpirant.  Daarna word die transpirant gesit op ‘n papier met ‘n handpalm waarop 5 beloftes in die Woord geskryf is.  Elke vrou word herinner dat ons God se handewerk is en ons moet Sy Woord vasmaak in ons hart.

Getuienisse van Ina, Larika, Jess, Carla en Rebecca het gevolg.  Uit die mond van ‘n ma wat gebid het vir haar kind se redding en die vier studente is ons harte diep geraak en ons is weer herinner van die krag van genesing wat in Jesus is.  Hy herstel verhoudings, genees wonde en bring nuwe lewe.  Liezl sluit die oggend af en deel oor die putte wat Isak oopgegrawe het in Gen 26.  Die Here sit in ons die put van Lewende Water, maar baie keer kom die vyand, ons eie keuses en die seer van die lewe en gooi die put toe.  Elke vrou is uitgedaag om haar eie hart te ondersoek en die Here toe te laat om haar put oop te maak sodat die Lewende Water deur haar lewe kan vloei.  Die evangelie van die Here het reguit gekom en talle ma’s en dogters het hulle harte vir die Here gegee en vele vroue het opgestaan en vir gebed gevra.

Dit was ‘n oggend van versoening, genesing en lekker kuier saam met vriendinne.  Ons het weggestap met ‘n veerligte tred en in die vryheid wat net Jesus kan bring.

Mariska du Plessis

Hier volg ‘n getuienis van een van die mammas.

Wat die ma en dogter dag vir my (ons ) beteken het:
Sjoe eerstens was dit so n seën om al daai mooi jong meisies se getuies te
Hoor.  Ek kon myself met baie van hulle lewens vergelyk. Die seer ,
verwerking , angs , bitter.. dit was so bevestiging dat die Here enige
situasie kan en sal verander.

Wat dit as ma vir my beteken het.. wel ek het gegaan met n “verwagting”
dat my dogter net n stukkie van die Here sal ervaar.. Sy liefde , omgee ,
sagmoedigheid , warmte , beskerming sal ervaar.. dat sy sal besef dat sy so
kosbaar is vir die Here dat hy duur betaal het vir haar. Ek kon die Here se
teenwoordigheid so voel van ons daar aan gekom het.. Die Here het wel
my gebed verhoor.  Hy het n afspraak gehad met haar. Op Sy tyd en Sy
wonderbarlike manier. Ons is altwee daar weg met die wete dat die Here se
plan is groter en better as ons plan.  Vandag kan ek sien dat my kind wel
die Here se liefde ervaar het daai dag, ek kan n verandering in haar sien. As
n ma maak ons baie foute en soms kan ons nie die klok terug draai nie, al
wil ons,  maar ek weet die Here vergewe ons met al ons foute en hy maak
ons weer heel.

Collette Van Loggerenberg

Loading

Share This Content Via: