Maatjie vir ‘n praatjie

Geselsies wat sy pad na jou hart vind!
As ek kon kies sou ek eerder in die hoek van ‘n stil eetplekkie, by ‘n tafel vir twee saam met jou wil gesels. 
 
Jer 33:3 “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”
Ps 145:18 “die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep.”

 
Ek onthou as kind daai benoude wakker-skrik gevoel as jy beangs na jou ma roep oor jy nie seker is of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie en die huis verlate stil is. Dan daai stem wat jy so goed ken wat uit ‘n ander vertrek reageer met:  ” Hier is ek, ek is net hier!”
 
In ‘n kort verhaal boek is ek herinner aan die eertydse “maatjie vir praatjie”, en net julle wat in die vroeg sewentigs jonk was, sal dit onthou.  Soos ek verstaan het seuns radios op frekwensies ingestel en dan het hulle geroep oor die radio of daar nie ‘n maatjie vir ‘n praatjie vanaand op die pad is nie?
Dit was iets soos:

Naggeluid 123 roep na ‘n maatjie vir ‘n praatjie?

En dan het ‘n wild vreemde persoon aan die anderkant wat jou perongeluk opgevang het geantwoord:

“Wildebees 564 is hier, gereed vir gesels”

So het jy woorde gewissel met iemand wat jy nooit weer sal sien of van hoor nie en jou eensaamheid was ‘n rukkie weggebêre in sy eie kas. 
 
Die kortverhaal en die twee verse het my herinner dat daar is ‘n kanaal wat altyd ingestel is op die frekwensies van jou hart en Hy is ‘n maatjie wat altyd soek vir ‘n praatjie met jou.

Sy naam is Jesus.
 
Miskien het jou eensaamheid sy kas weer verlaat en hy het sy nes kom skrop in jou binneste. Lees Jer 33:3 en Ps 145:18 en roep Hom aan, Hy wil met jou gesels en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge wat jy nog nie van gehoor het nie.
 
Liefnis tot ‘n volgende keer

Loading

Share This Content Via: